Ons seuntjie, Deniel, is gebore op 19 Maart 2013. Wat 'n ondervinding! Om te dink hierdie mensie het vir 9 maande binne in my gegroei en gevorm tot die perfekte seuntjie wat hy met geboorte was. Hy het nuwe betekenins aan my en Barri se lewe gebring, en die liefde wat ons vir hom voel is iets wat jy vir niemand anders kan beskryf nie. Hy is hierdie week al 5 weke oud, en die foto's is geneem toe hy onderskeidelik 2 en 3 weke oud was. Hy is, soos sy pa hom noem, ons "Bondeltjie Boer". Daar word al vreeslik planne gemaak oor hoe hy gaan boer en jag en skaapwerk saam met sy pa :) Sy ouma Fransie het die mooi kombers vir sy kamer gehekel en ons buurvrou Marnieta, het die pragtige kussing met sy naam daarop spesiaal vir hom gemaak wat ons in die foto's gebruik het. Hierdie is voorwaar een bederfde seuntjie, daar is amper nie meer plek in sy kamer vir al die persente wat die mannetjie al gekry het nie. Dis vir ons as nuwe ouers so lekker om te weet dat hy net so geliefd is deur sy familie en vriende en ons se vir julle BAIE dankie vir elke liewe "wetwipe", roompie, druppel, sms en hospitaalbesoek. Dis die lekkerste gevoel om te weet ander mense is saam met ons opgewonde oor die nuwe lewe wat aan my en Barri toevertrou is. Geniet die foto's, hy het al klaar soveel verander in die twee weke dat dit al amper WEER tyd is om foto's te neem! :)
No comments:
Post a Comment